Monday, January 2, 2017

Agter-os verken die Kaokoveld Desember 2016

Agter-os se vorige besoek aan Namibie in 2012 was na Damara-land waar ons by Brandberg die landy se neus eers na 'n maand se toer weer Suid gedraai het, hier het ons onsself belowe dat ons volgende besoek na die Noorde van Namibie sal wees, spesifiek na die Kaokoveld.

'n Verdere inspirasie was die boek "An Arid Eden" deur Garth Owen Smith wat handel oor die afgelope 50 jaar se bewarings stories in die streek. Dit is 'n onmisbare bron van inspirasie as mens die streek wil besoek.


Ons beplande toer van Junie 2016 na die Kaokoveld het weens werksverpligtinge nie gerealiseer nie en moes ons noodgedwonge ons planne skuif na Desember maand. Ons het Agter-os 18 jaar gelede splinternuut gekoop en natuurlik was lugreeling daardie tyd nie belangrik nie...en ook nie spoed nie... ons het wel erger verwag, maar ons jare op Graaff Reinet glo ek het ons op die hitte en stof voorberei... of so het ons gedink! Met Agter-os is daar ook nie sprake van haastig raak nie en ons hou 'n gemiddelde 100km/hr vir die volgende 6600km!




Ons beplan toe om die eerste paar dae deur die nag te ry tot waar ons ons vriende Ludwig en Mariette Malherbe van Franschhoek op Swakopmund ontmoet en daarvandaan die toer afskop Noorde toe. Met hierdie strategie gooi ek toe die twee agter sitplekke uit en maak 'n lekker bed vir die kinders.



Hierdie bed was op die ou einde 'n goeie besluit en het ons menigmale met baie min moeite op plekker oornag sonder om kamp op te slaan, dit het ook gesorg vir heerlike laat nagtelike speletjies en geselsies aangesien die kinders nou reg onder ons geslaap het!


Ons ry oor Upington waar ons by Sakkie se Arkie teen die Oranje rivier oornag en ry die volgende dag oor Nakop grenspos tot op 'n winderige en stowwerige Seeheim.


Ons bereik Seeheim eers laat, want oppad soontoe neem my GPS ons op die ou pad wat blykbaar al vir twee jaar geslut was, hierdie 15km neem ons amper 1.5 uur om te voltooi - in lae strek! Hiervandaan ry ons met die C12 en C14 tot by Solitaire Desert Camp. Op hierdie stadium ry ons van swembad tot swembad as gevolg van die hitte. Ons kan glad nie vensters oopmaak nie want dan is dit asof daar 'n stofsuier aanskakel wat stof van agter insuig in die landy in!









Marsha maak reg vir ete, of gooi sy 'n G&T?


Met ons aankoms op Swakopmund was Ludwig nog aan die herstel van die 370km solo Desert Dash bergfiets resies! Ons staan vir twee aande op Alte Brucke en verken Swakopmund saam met die Malherbes en kry voorraad vir die volgende 10 dae voor ons weer by'n betaamlike winkel sal kom.










Ons eerste amptelike Kaoko toer uitspan was op myl 72 waar die hengel geluk ons tref en ons heerlike rooster grootte kabeljoutjies met ons aankoms uittrek en dadelik op die rooster kon gooi! Ons lus vir vars vis kom al van die Karoo af en dit was net die regte manier om die toer mee af te skop, natuurlik gaan dit net lekkerder saam met 'n L'Ormarins Brut...








Die weer is heerlik koel vir 'n verandering en ek trek 'n ou groot steenbra die volgende oggend sommer hier knap by die landy uit. Hy word noukeuring ge-"fillet" en ons pak hom netjies in 'ziplock" sakkies in die vrieskas vir die res van die toer, iets waaroor ons nog baie bly sou wees! Die res van die vis word agter gelaat vir die inwonende strand hiena wat sy spore elke oggend deur ons kamp gelos het.



Die "tannies" en hul blomme!





Ons trek hiervandaan verder Noord en draai duskant myl 100 af na die Ugab rivier en die Ugab River Camp (Rhino Camp). Hierdie pad het die Agter-os behoorlik getoets, dit het nie net die plaak van ons tande af geskud nie, maar het behoorlik die rivets waarmee die Agteros aanmekaar gesit is beproef, maar hy het weereens soos oor die afgelope 18 jaar al, gewys dat hy eerder hierdie soort paaie verkies as teerpaaie!

Dit is 'n kronkelende tweespoor laestrek 4x4 paaidjie wat men duidelik in "no man's land" inneem. hier kry mens daardie 'verdwaal' gevoel en die gevoel dat pap wiele hier, soos leeus, vollop moet wees!


G'n wonder mens word oral hier rond gewaarsku nie!





Dit was op pad Ugab toe waar ons sou bewus word van die afsondering en die wild lewe waarin ons ons nou self bevind; waarskuwings bordjies om op die uitkyk te wees vir woestyn leeus, olifante en renosters - hier beleef mens die afgesonderheid met die mees skilderagtige rotsformasies met sy wel beproefde paaidjies en erge skerp rotsformasies.


Ons trek noord na Twyfelfontein en mis iewers 'n afdraai en span op die ou einde uit onder 'n bakkrans in die middel van nêrens wat ons op die ou einde wel by Palwag uitbring.


By die bakkrans hou die kinders konsert met 'n kleur led lig (wat Ludwig ingepak het!) teen die krans en stort onder die bakkrans. Ons besluit ons sal maar Twyfelfontein besoek op ons pad terug uit die noorde.





Op hierdie deel van ons toer het ons oral vars oifant spore gekry, maar hulle ontduik ons telkemale, ander wild soos gemsbokke, springbokke, koedoes en kameelperde was wel vollop, selfs renoster paadjies is vollop en vars.





Ons stop op Palmwag vir 'n vinnige afstof, ontbyt en 'n afkoel voor ons verder noordwaarts vertrek.




Ons besef dat die huidige droogte nie net in die Karoo en Noordelike dele van Suid Afrika teister nie, maar ook Namibie op sy kniee het. Op pad Epupa toe verloor ons radio kommunikasie met Ludwig hulle en sal hulle eers weer 'n dag later kry. 'n Misverstand oor 'n afdraai pad naby Sesfontein veroorsaak dat ons noodgedwonge op Opuwo oorbly waar ons darem die volgende oggend kon vooraad en kontant aanvul, ons kry ons viende toe eers weer die volgende dag by Epupa.



Oppad Epupa toe, besoek ons 'n Himba kraal; tot die Himba vroue se vermaak het hulle vir die eerste maal blanke dogtertjies gesien, Lana en Anna se hare is bevoel en die Himbas wou nie glo dat hulle dogterjies is nie want hulle dra dan broeke!






Die rooi oker en botter mengsel wat aan hul hare, velle, krale ens ens gesmeer word, word in leer sakke in bome gehag en kan tot twee jaar hou! Dit moet werk vir hul velle, maar die reuk is skuins ver van Chanel5 af en smeer nogal swaar in die kraal en aan hul kunswerke af... maar dit werk!


Dit is egter hartseer om die trotse Himba tradisies te sien kwyn en moderniseer. Ons kon hier ook oppad by 'n enorme ou Boabab boom stop, hy kan sy eie storie vertel en hou al vir eeue wag oor die mopanie vlaktes van Noordelike Namibie en sy mense.





Epupa is besonders mooi, ons span uit teen die water onder enorme makalani palm bome en moes maar koes-koes vir die vallende neute! Hier spoor Ludwig en Mariette ons uiteindelik weer op en ons besluit om nog 'n dag langer te bly voor ons Oos in die rigting van Ruacana vertrek.






Die vroue is teen hierdie tyd bekwame baksters en het gereeld gesorg vir vars brood op die toer!


Ongelukkig is die ou 4x4 roete tussen Epupa en Ruacana die afgelope jaar herbou na 'n wye oop pad wat nou slegs 'n paar uur duur om te ry. Voorheen moes mens oornag op hierdie uitdagende roete. Nou is die pad 'n bedrywige toerisme roete en ons verkennings avontuurlustgheid is skoon geblus, ons besluit toe om vir 'n paar dae by die Kunene River Lodge te staan.

Ons vermoed dat na die eerste swaar reens die pad weer sy 4x4 status sal terug kry.




By die Kunene River Lodge is die apies knaend en die water likkewane is oral in en om die kamp opsoek na 'n skraapseltjie. Die voel lewe hier is ook besonders. 


Ons bos weergawe van 'vis (steenbra) en tjips' espetada! Natuurlik met die gebruiklike L'Ormarins of hier Leopard's Leap Brut...






Ons gaan vir 'n sononder bootrit op die Kunene en sien krokkedille en geniet 'n yskoue G&T op die banke aan die Angola kant van die rivier, 'n indrukwekkende stuk water met absoluut geen landbou aktiwiteite aan beide die Namibie of Angola kante nie! Wat 'n geleentheid met hierdie weer, water en grond!


Die makalani palms word gebrand en dan ge'melk' vir 'n sterk drank, maar ongelukkig maak dit ook die bome oor tyd dood, die pypies is waarmee hulle die sap tap en hulle klim hierteen op om ook die groeipunt uit te haal vir stook.


Hoog teen 'n boom teen die Kunene, dalk het iemand hier jare gelede 'n kind verloor? Hierdie is 'n pragtige uitkyk op Angola aan die oorkant.







Ons ry verder tot by Ruacana al langs die Kunene af, boerdery is baie primitief en selfversorgend - soveel potensiaal...





Ludwig-hulle tel onbeplande moeilikheid by die huis op en moes op hierdie stadium terug draai huistoe. Ons besluit om hulle vanaf Ruacana te volg tot net voor die rooi lyn waar ons afskeid neem en ons 'n afgelee en ongemerkte 4x4 paadjie of roete vat vanaf Otjikavare deur 'n groot bewarings gebied in die rigting van Ongongo en Sesfontein.



Hier ry ons op vars olifant spore maar hulle verdwyn later in die bosse. Agter-os ry hom telkemale vas teen slote en onbegaanbare rivierlope, dan verg dit terugdraai en die slote en riviere verken vir oorgangplekke, maar ons kom eventueel uit op die C43 en staan oor op Kowarib.





Op Kowarib ontmoet ons vir Thinus en 'Van' (Werner) en hul vroue, Gautengers wat die wêreld beter as ons ken en ons besluit om saam die volgende dag in die Hoanib rivier na die woestyn olifante te gaan soek.


Die Hoanib het plek plek water, en oral is zebras en gemsbokke, springbokke, leeu spore en karkasse. Die rit is asemrowend mooi en uitdagend! Regte laestrek sand-ry wêreld.


Dit was nie lank voor die nuwe Cruiser200 met 'n pap wiel staan nie...wat is dit met die nuwe cruisers?


'n ou Landy en 'n ou boom in simbiose...





Op hierdie punt het Agter-os besluit dat hy sy eie plan het om met die hitte te deel; hy sal eenvoudig nie weer aansit as hy te warm gewerk is nie, of ek moet hom behoorlik laat koel luier, of behoorlik laat afkoel nadat ek hom afgeskakel het (wat nogal lank kan neem aangesien die buite temperature op hierdie stadium in die hoeer 40's was) of ek kan hom met water afkoel (wat ook op hierdie stadium 'n skaarste was), dus laat luier ons hom van hier af vir 'n aansienlike tydjie elke keer as ons lae strek roetes aandurf waar hy hard moes werk! Hy koel af terwyl hy luier en ons geniet 'n koue een of meer uit die yskas!





Die woestyn olifante het onverwags om 'n draai hoog op 'n die Hoanib rivier hul veskyning gemaak! Hulle le uitgestrek en soos mense onder 'n groot ou loodhout boom en slaap, eers later sou ons sien daar is 'n pap baba olifantjie wat plat op sy maag le en slaap, ewe met sy ore oor sy oe getrek!

Ons draai hier om en gaan soek lafenis by die Ongongo warmwater fontein waar ons besluit om oor te slaap.



Rummicub tyd...





Met ons aanvanklike toerplan sou ons drie gesinne wees; Onsself, die Malherbes (Franschhoek) en die Griffioens (Pretoria). Pierrie en Esmie Griffioen kon op die ou einde eers 'n week later uit Pretoria vertrek en het op hierdie stadium nog nie by ons aangesluit nie, maar hulle volg op ons spore en die kanse is nou goed dat ons hulle op Palmwag sal kry. Intussen het Pierre tegniese (yskas) probleme opgetel - en dit is 'n 'maak-of-breek' probleem in hierdie hitte!


Om genoeg koue water te hê in temperature aan die hoer kant van 40 grade moes die yskas gespaar word en dus moes mens maar improviseer, en dit werk!






Groot was die ontmoeting op Palmwag met die Griffioen's waar ons toe sou saam afpak vir 'n paar dae. Ons besluit om vir kersfees hier te staan, die kinders maak 'n kersboom van makalani palms en geverfde mopani blare en ons bederf ons met 'n heerlike kersete by die lodge. Ons kry ook gereelde besoeke van 'n ou olifant bul wat ons middae in ons kampplek kom besoek!








Pierre-hulle besluit om vir nog 'n dag te bly en dan die Hoanib en Ongongo te gaan verken op ons aanbeveling, ons begin hiervandaan Oos-waarts trek en besluit om weer bymekaar te kom verder op ons roete. Ons ry Madisa toe en vertoef vir wyle op Twyfelfontein en die versteende woud. Ons kos vooraad en kontant is weer laag en ons ry Korixhas toe, waar hierdie dienste aan die skaarser kant is. Gelukkig dra Agter-os genoeg diesel en water en kon ons gemaklik 1200 km aflê voor ons moes hervul. Kos, ys en koue bier sou 'n veel groter probleem wees!










Ons kry almal beurte saans om die vuurtjie om die bekfluitjie te leers speel, eers later voeg ons 'n drom ook by die orkes.


Die kinders slaan na as hulle vrae het, so lekker om vir 'n slag vir 'Google' by die huis te los en weer 'n boek vas te hou!

Anna ontwikkel 'n vel irritasie as gevolg van 'n allergie vir die sonbrandmiddel en die swembaddens se hoe chloor vlakke vererger dit tot so mate dat ons besluit om Omururu toe te ry om by 'n apteek te kom. Hiervandaan besluit ons om op Erindi by hul Camp Elephant te ontspan en staan hier vir 'n paar dae.








Hier wemel die wild by voerplekke naby die watergat, ons kamp tussen die watergat en die swembad en met 'n goed gelaaide winkeltjie en met alles waaraan mens kan dink, staan ons nog 'n dag voor ons die lang pad Suide toe aanpak.





Na drie weke op die pad is die verlange na die plaas en diere te groot en besluit ons om 'n paar dae vroeer as beplan terug te draai, die Griffioens te groet en Agter-os se neus Suid te draai.

Ons ry die volgende dag oor Otjo en Windhoek, staan oor by die dam naby Rehoboth. Hiervandaan ry ons oor Mariental tot op Keetmanshoop en draai by Grunau weg na die Nakop grenspos. Ons slaap op Upington by 'Aan'T kanaal' B&B waar ons die Ou jaar vier en met die wind van agter stoot ons aan huistoe.



  Agter-os pas nou maar vir eens en vir altyd net nie in die stad in nie!





Ons Kaoko toer is nog te vars in ons koppe om behoorlik op te reflekteer, maar die tyd saam met die gesin, die afgelee wilde gebiede, prentjie landskappe, diere en die kuiertjies om die kampvuur en saam kuier in die landy speel hulself oor en oor af in ons gedagtes. Ons toer was in oorvloed geseend, 6600km waarvan elke kilometer en nabetragting aan Hom opgedra sal word.



Nou raak dit tyd om aan ons volgende Agter-os toer te begin beplan!

No comments: